Farm workers get Solar water heating – Worcester, South Africa

0
719

Sowat 200 plaaswerkerhuise in die Worcester-omgewing het nou warm water danksy sonkrag nadat ses boere in die gebied saam besluit het om sonwaterverhitters by werkershuise te installeer.

Die sonwaterverhitters is deur Ecozone van Bellville geïnstalleer. Die stelsels wat gebruik is, is Tasol se 110 F-laedruk-sonwaterverhitters.

Mnr. Gustav Trichardt van Ecozone sê die stelsels is ideaal vir plaaswerkerhuise. Dit is deur die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde goedgekeur en kwalifiseer vir Eskom se sonwaterverhitter-rabat.

Hy sê die stelsels kos minder as R2 000 nadat die Eskom-rabat afgetrek is. Dit sluit die installasiekoste in. Om te kwalifiseer, moet huise ’n kragpunt en die inwoner ’n Suid-Afrikaanse identiteitsdokument hê.

Volgens Trichardt kan die kragbesparing per sonwaterverhitter soveel as R170 per maand bedra, wat beteken die stelsels kan binne een jaar terugbetaal word.

Trichardt verwag die mark vir hoëdruk-sonwaterverhitters – hoofsaaklik vir die middelklas tot ryker mense – sal vinniger groei namate mense weens die volgende ronde skerp elektrisiteitsprysverhogings besef ’n sonwaterverhitter is nie meer ’n luukse nie, maar noodsaaklik.

Mnr. Graham Mundy, besturende direkteur van Solar Beam, sê die meeste banke bied lenings vir sonwaterverhitters wat terugbetaal word met die geld wat huishoudings maandeliks op ’n kragrekening spaar. Hy sê die Eskom-rabat sal nie vir altyd voortduur nie.

Mnr. Jim Hickey, besturende direkteur van Selected Energy, Suid-Afrikaanse verskaffers van die Australiese sonwaterverhitter Solahart, sê die mark sal volgende jaar skerp begin groei omdat wetgewing na verwagting in die eerste kwartaal van volgende jaar in werking tree wat alle nuwe geboue verplig om minstens 50% van hul waterverhitting van hernieubare energie – d.w.s. sonwaterverhitters – te kry.

Verskaffers in die bedryf het skerp toegeneem, sê Hickey. Voor 2008 was daar net 8 verskaffers. Daar is nou 400. Baie van hulle voer goedkoop sonwaterverhitters van China in, wat meestal in laekostebehuising gebruik word.

Die kommersiële kant van sonwaterverhitting verwag ook skerp groei omdat Eskom sy vraagkantbestuursprogram gaan uitbrei. Groot kommersiële en nywerheidskragverbruikers wat kan bewys hoeveel krag hulle danksy die installering van sonwaterverhitters bespaar het, sal ’n groot persentasie van die projekkoste by Eskom kan terugeis.

Hickey sê Selected Energy het 200 sonwaterverhitters vir ’n hotel naby die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg geïnstalleer en is besig met installasies by ’n myn in die Noord-Kaap, asook ’n grootmaatstelsel vir BHP Billiton.

Dit behels ’n stelsel van 25 000 F, oftewel 5 watertenks van 5 000 F, waarvan die water met 100 son­panele verhit word.

Hy sê daar is genoeg arbeid om die groei in die mark te hanteer. Om een huishoudelike sonwaterverhitter te installeer, verg een gekwalifiseerde loodgieter en drie ongeskoolde werkers. By nuwe huise kan so ’n span twee tot drie stelsels per dag installeer.


 Sake24.com  > Nuus  > Groensake 

Subscribe to our Newsletter!

Stay up to date with the latest news and relevant updates from us.